Ontvang elke weeksdag 'n gratis brief in u Inboks-die Basuin Brief

Leuens en Verraad

ISTOCK.COM/CACTUSOUP, MELISSA BARREIRO/DIE BASUIN

Leuens en Verraad

Aanslag op Amerika (Hoofstuk Vier)

Vervolg vanaf "Redding vir Amerika—Tydelik"

Gedurende sy agt jaar as president, het Barack Obama en die radikale linkses met verstommende vryheid en oorgawe daartoe gewerk om Amerika te saboteer. Terwyl hulle voorberei het vir die oorgang na Obama se opvolger, het hul vasberadenheid om hulle greep op die mag te behou deur 'n Hillary Clinton-presidentskap, hulle tot ongeëwenaarde euwels gedryf.

Toe Donald Trump in 2016 ’n presidentskandidaat was, het radikale linkses hom geteiken en ’n bespotting van hom gemaak omdat hy melding gemaak het van moontlike verkiesingsbedrog. Hulle het alles gedoen wat hulle kon, met die samewerking van ’n bevooroordeelde media, om hom as onbekwaam vir die amp uit te beeld. Maar hulle het veel meer gedoen. Hulle het ernstige misdade gepleeg. Die omvang van hul wettelose aktiwiteite het tyd geneem om ontbloot te word, en sekerlik moet sommige daarvan nog ten volle geopenbaar word.

Ons weet nou dat die presidensiële veldtog van Hillary Clinton en die Demokratiese Nasionale Komitee in 2016 die regsfirma Perkins Coie betaal het vir 'n verslag deur Fusion GPS, 'n navorsingsfirma gebaseer in Washington, D.C. Fusion GPS het die voormalige Britse MI-6-intelligensie-agent Christopher Steele betaal om ‘n bekladdingsveldtog teen Clinton se politieke opponent saam te stel. In September 2016 het Steele aan 'n senior amptenaar van die Departement van Justisie erken dat hy "desperaat was dat Donald Trump nie verkies word nie en passievol daaroor was dat hy nie president sou wees nie." Dít was die man wat Demokrate gehuur het om veroordelende inligting oor Mnr. Trump te vind. Sou 'n bevooroordeelde bron soos hy enige motivering hê om te lieg? Dit wys hoe obsessief hulle was om Trump te keer.

Steele het 'n dossier van 35 bladsye geskep as opposisienavorsing vir Hillary Clinton se veldtog. Opposisienavorsing is dikwels vol onakkuraathede en soms blatante leuens. Steele se verslag het Donald Trump valslik beskuldig van walglike eskapades met Russiese prostitute, onder andere lasterlike bewerings dat die Russiese president Vladimir Poetin hierdie geheime inligting kan gebruik om Mnr. Trump af te pers as hy president word. Dit beweer ook kollusie tussen die Russiese regering en Donald Trump se presidensiële veldtog. Dit was gebaseer op “kroeg gesprekke” (volgens een van sy bronne, wat 'n Russiese burger was), ongevraagde telefoonoproepe van anonieme bronne, leuens wat deur Fusion GPS uitgedink is, en onwettig bekomde Internet data.

Normaalweg sal “gemors” soos wat Steele saamgestel het dit nooit verby media nuuskamers maak nie. Maar hierdie geval was anders. Toe Steele saam met Fusion GPS-werknemers, die dossier broksgewys aan die media gevoer het, het die pers dit met smaak gepubliseer. Dit was eers toe BuzzFeed die geheel van Steele se verslag op 11 Januarie 2017 gepubliseer het, dat die publiek uiteindelik na die enigste bron vir die gerugte wat hulle die afgelope ses maande gevoer is, kon kyk.

Iets wat selfs meer diabolies as dít is, is dat die federale regering, sonder om die moeite te doen om enigiets in die dossier te verifieer, dit as bewyse begin gebruik het om spioenasie op Trump en lede van sy veldtog te regverdig.

In die herfs van 2020 het John Ratcliffe, Direkteur van Nasionale Intelligensie, kritieke dokumente openbaar gemaak wat die feit ontbloot het dat die Steele-dossier en die komplot teen Donald Trump tot by top-amptenare in die Obama-administrasie opgespoor is - insluitend president Barack Obama self.

Dit openbaar 'n ongekende vlak van korrupsie en wetteloosheid. Dit is ’n volks- vernietigende probleem!

Die Hoogste Regeringsvlakke

Amerika se intelligensie- en wetstoepassingsagentskappe - die Federale Buro van Ondersoek [FBI], die Sentrale Intelligensie-Agentskap [CIA], die Nasionale Sekuriteits-Agentskap [NSA] en ander - is veronderstel om regverdig en polities neutraal te wees. Maar hope inligting het uitgekom oor gebeure rondom die 2016-verkiesing wat skokkende politieke vooroordeel binne hierdie federale entiteite blootlê. Hierdie amptenare het gereeld ernstige wetsoortredings deur Clinton en ander Demokrate toesgemeer en alles moontlik gedoen om 'n skandaal wat met Mnr. Trump geassosieer kan word, te vind of selfs te skep.

Onder die dokumente wat Ratcliffe aan die Senaat se Regterlike Komitee vrygestel het, was 'n geredigeerde afskrif van CIA-Direkteur John Brennan se handgeskrewe notas nadat hy president Obama in Julie 2016 ingelig het oor onlangse intelligensie wat die CIA ontvang het. Sy aantekeninge lui: “Ons kry bykomende insig in Russiese aktiwiteite van [geredigeer]. Haal beweerde goedkeuring deur Hillary Clinton op 28 Julie van 'n voorstel van een van haar buitelandse beleidsadviseurs aan om Donald Trump swart te smeer [sic] deur 'n skandaal aan te wakker wat bewerings maak van inmenging deur die Russiese veiligheidsdiens.”

Hierdie notas bewys dat Brennan en Obama alles geweet het van die Steele-dossier en watter bedrog dit was.

In sy brief aan die Senaat se Regterlike Komitee het Ratcliffe geskryf: “Aan die einde van Julie 2016 het Amerikaanse intelligensie-agentskappe insig verkry tot Russiese intelligensie-ontleding wat beweer dat die Amerikaanse presidentskandidaat Hillary Clinton 'n veldtogplan goedgekeur het om 'n skandaal teen die Amerikaanse presidentskandidaat Donald Trump aan te wakker deur hom aan Poetin en die Russe se kuberskaking van die Demokratiese Nasionale Komitee [DNK] te bind.”

Dit was 'n verwysing na 'n gebeurtenis gedurende daardie somer, toe die DNK gesê het dit is geskaak. Die Clinton-veldtog het dadelik gesê dat die Russiese regering skuldig was aan die kuberskaking en dat die motief daarvan was om Mnr. Trump te help om die verkiesing te wen. Julian Assange en WikiLeaks sê dit was 'n totale versinsel. Die enigste mense wat toegang gekry het tot die DNK-rekenaarstelsel om dit te ontleed en te bevestig wat gebeur het, was van CrowdStrike, 'n kuberveiligheidsfirma wat teen Donald Trump gewerk en deur die DNK gehuur is.

Die DNK-kuberskaking is wat die grondslag gelê het vir die media, Demokrate en Obama-amptenare om te begin bou aan hulle samesweringsteorieë dat Donald Trump in samewerking met Vladimir Poetin was.7 díe bedrog is al wat hulle gehad het! Dit was alles met die doel om die fokus van die inhoud van die DNK-e-posse af te lei—en om Mnr. Trump te belaster en te vernietig.

(7 CrowdStrike HUB Shawn Henry, het tydens 'n geslote-deur-verhoor op 5 Desember 2017 getuig dat die bewering dat die DNK-data deur Rusland geskaak is, gebaseer is op "omstandigheidsbewyse.”)

President Obama was ook bewus hiervan.

Vroeg in Augustus 2016, drie maande voor die verkiesing, het James Clapper, Direkteur van die Kantoor vir Nasionale Intelligensie, saam met FBI-Direkteur James Comey en CIA-Direkteur Brennan, president Obama en visepresident Joe Biden ingelig oor die Steele-dossier. Dit is intussen bewys dat al hierdie mans geweet het die berig is leuens. Brennan se notas toon dat hulle geweet het dit was 'n plan wat Hillary Clinton uitgedink het "om Donald Trump te belaster" en om hom valslik van bande met Rusland te beskuldig. Die hele intelligensie gemeenskap het geweet dit is 'n bedrog. Ek glo dat Obama voor daardie tyd daarvan geweet het, maar dit is seker dat hy drie maande voor die 2016-verkiesing geweet het.

Ratcliffe se brief het voortgegaan: "Op 7 September 2016 het Amerikaanse intelligensie-amptenare 'n ondersoekende verwysing na FBI-Direkteur James Comey en Adjunk-Assistentdirekteur van teenintelligensie Peter Strzok aangestuur oor ‘V.S. presidentskandidaat Hillary Clinton se goedkeuring van 'n plan rakende die Amerikaanse presidentskandidaat Donald Trump en Russiese kuberkrakers wat Amerikaanse verkiesings belemmer as 'n manier om die publiek se aandag af te lei van haar gebruik van 'n private e-posbediener.’”

Neem kennis! Die FBI het "'n ondersoekende verwysing" van Amerikaanse intelligensiebeamptes ontvang. Dit beteken dat iemand in die Obama-administrasie die FBI aangesê het om hierdie valse bewerings teen Trump te ondersoek. Obama en almal in sy kring, die intelligensie-agentskappe en die FBI, het almal geweet dat die idee van die Trump-veldtog wat met die Russiese regering saamsweer,’n klug was en geskep is deur Hillary Clinton se veldtog. Maar hulle was bereid om dit te gebruik sodat hulle kon voortgaan met hul wettelose heerskappy oor die land!

Ratcliffe het later gesê hy het meer as 'n duisend geklassifiseerde dokumente wat verband hou met die Steele-dossier en hoe dit gebruik was "op die hoogste vlakke van ons regering." Hy het gesê die inhoud van daardie dokumente is krimineel!

Agtien dae voor die 2016-verkiesing, op 21 Oktober, het die FBI en die Departement van Justisie [DOJ] hierdie afskuwelike, bedrieglike dossier aan die Foreign Intelligence Surveillance Act [FISA]-hof voorgelê. Met die wete dat dit snert is, het Obama se afdwingingsagente hierdie verslag gebruik om goedkeuring te verkry om Trump-veldtog personeellid Carter Page elektronies te monitor. Hulle het al een keer tevore probeer om 'n FISA-lasbrief op Page te kry; dit was eers toe hulle die Steele-dossier en mediaberigte (aan Steele verskaf) gehad het dat hulle die lasbrief kon bekom. Dit lyk dalk onbeduidend, aangesien Page 'n laer-vlak, vrywillige personeellid in die Trump-veldtog was. Maar so 'n lasbrief kan gebruik word om al die teiken se kommunikasie na te spoor, insluitend enige wat hy met destydse kandidaat Trump gehad het. Hierdie geheime lasbrief het eintlik die deur oopgemaak om op almal rondom Mnr. Trump te spioeneer. Dit was die doel.

Dit is blatante kriminele aktiwiteit op die hoogste vlakke van regering!

'n Desember 2019-verslag van die Inspekteur-Generaal van die Departement van Justisie, Michael Horowitz, het hierdie stelling ingesluit: "Ons het tot die gevolgtrekking gekom dat die Crossfire Hurricane-span se ontvangs van Steele se verkiesings-verslag op 19 September 2016 'n sentrale en noodsaaklike rol gespeel het" in die verkryging van die FISA-lasbrief. Andrew McCabe, Mede-Adjunkdirekteur van die FBI, het ook erken dat die FBI-operasie teruglei na die Steele-dossier. Trouens, daardie wetstoepassers moes daardie lasbrief drie keer hernu sodat hulle kon aanhou spioeneer. Elke keer moes hierdie agentskappe die FISA-hof oortuig dat Amerika 'n gevaarlike bedreiging uit die buiteland in die gesig staar, soos 'n terreuraanval. Hulle het geen werklike bewyse gehad nie, so hulle het op die Steele-dossier staatgemaak en die feit dat dit regstreeks teruglei na die Clinton-veldtog, van die hof weerhou.

Steele het in 'n Britse hof erken dat hy inligting uit sy dossier in September 2016 aan die pers gelek het—'n maand voordat die FISA-lasbrief gebaseer op sy dossier goedgekeur is. Hy het vir die FBI gelieg dat hy die dossier vertroulik hou, en getoon dat hy 'n onbetroubare bron is. Die FBI het die verhouding met hom beëindig net nadat die lasbrief verkry is, maar Steele se dossier het steeds deur Bruce Ohr en sy vrou die FBI binnegevloei. Die FBI het voortgegaan om bewyse wat Carter Page se onskuld bewys van die FISA-hof te weerhou en het op Steele se verslag staatgemaak vir nóg drie hernuwings van die lasbrief.

Horowitz het ook berig gelewer dat die FBI die Steele-beskuldigings aan die intelligensie-agentskappe versprei het en probeer het om dit by die Januarie 2017-intelligensiegemeenskapsevaluering in te sluit. Die opdrag om dit te doen het van Obama self gekom!

Hierdie gebeurtenis alleen wys dat Barack Obama in beheer was van die dossier en die intelligensiegemeenskap. Hy het al die belangrike gebeurtenisse georkestreer. U sal dit in hierdie boek sien.

Die dossier was effektief 'n "versekeringspolis" wat bedoel was om Trump te vernietig in die geval - in hul gedagtes gering, selfs ondenkbaar–dat Mev. Clinton op 8 November verloor. Tog het Donald Trump op een of ander manier die onmoontlike bereik en gewen.

Dit het die radikale Demokrate geskok. En skielik het hulle die verskriklike vooruitsig van 'n inkomende presidensiële administrasie in die gesig gestaar wat hul verbete wetteloosheid sou ontdek en blootlê.

Barack Obama het toe sy werk aan sy verraderlike komplot verhoog om hul vorige optrede ten alle koste te bedek - en het gewerk om die verkose president van die Verenigde State polities te vernietig.

'n Verraderlike Vergadering

Op 5 Januarie 2017 het president Obama met sy top-intelligensiebeamptes in die Amerikaanse presidensiële kantoor vergader om 'n inligtingsessie te hou oor die vordering van die Rusland-Trump-ondersoek. Hierdie belangrike vergadering het Comey, Brennan, Clapper en Biden ingesluit, sowel as NSA-Direkteur Michael Rogers, Nasionale Veiligheidsadviseur Susan Rice en Adjunk-Prokureur-Generaal Sally Yates. Feitlik al die top amptenare in die regering was teenwoordig vir hierdie vergadering oor Donald Trump, wat op die punt was om in die Withuis in te trek.

"Die amptenare in die vergadering sou moes uitvind hoe die ondersoek [van Carter Page en die Trump-veldtog] kon voortgaan ondanks die feit dat die sentrale fokus, Trump, op die punt was om as president ingesweer te word," het Andrew McCarthy vir National Review geskryf (15 Feb. 2018).

Dink daaroor. Hierdie top amptenare, gelei deur obama, was besig om strategies te beplan hoe om met 'n onwettige ondersoek voort te gaan oor die volgende sittende president, wat hulle baas sou wees!

Dit is verraad!

President Obama het gesê dat hy nooit ingegryp het in ondersoeke wat deur die Departement van Justisie en FBI gedoen word nie. In 'n onderhoud in April 2016 het hy nadruklik gesê: “Ek praat nie met die Prokureur-Generaal oor hangende ondersoeke nie. Ek praat nie met FBI-direkteure oor hangende ondersoeke nie. Ons het ’n streng lyn en het dit altyd gehandhaaf.”

Dit was 'n kollosale, afskuwelike leuen! Obama het soos 'n tiran oor daardie mense regeer. Hulle het geswymel oor hom, maar hulle was ook bang vir hom.

McCarthy het voortgegaan, "Obama-amptenare het beweer dat hulle hou by 'n boek wat konsultasies tussen politieke leiers en ondersoekers verbied. Maar hier was hulle besig met om te konsulteer.” En waaroor het hulle in daardie belangrike vergadering van 5 Januarie gekonsulteer? Hoe om die ondersoek van Donald Trump aan die gang te hou selfs nadat hy president geword het! En dit was alles gebaseer op 'n bedrieglike uitgangspunt van politieke propaganda.

Kan daar 'n meer dodelike verraad wees?

Geheime Teen die Verkose President

Ná daardie vergadering het Obama verder met Yates en Comey vergader, wat albei in hul amp sou aanbly nadat Mnr. Trump president geword het. Tydens hierdie tweede vergadering het president Obama gepraat oor die inligtingsessie wat FBI-Direkteur Comey die inkomende president die volgende dag, 6 Januarie, sou gee. Obama het Comey opdrag gegee om selektief te wees in hoe hy die verkose president Trump sou inlig. Comey moes Trump nié die waarheid vertel dat hy ondersoek word nie.

Toe Comey Mnr. Trump oor die Steele-dossier ingelig het, is dit byna seker dat hy slegs ’n klein bietjie daarvan beskryf het—die verleentheid van seksuele bewerings—sodat die inkomende president die ondersoek sou magtig om voort te gaan en om sy naam skoon te maak. Comey moes die deel oor samespanning tussen die Trump-veldtog en Russe uitgelaat het, want daar is geen manier dat Mnr. Trump 'n ondersoek sou goedgekeur het wat hom in oorweging as 'n kriminele verdagte sou bring nie!

“Die hoofdoel van teenintelligensie operasies is om die president op hoogte te hou,” het McCarthy geskryf, “maar wanneer dit by die inkomende president kom, het wetstoepassingsleiers die Rusland-ondersoek behandel soos 'n kriminele ondersoek waarin Trump 'n verdagte was...”

“Aangesien Trump die mag sou hê om die ondersoek stop te sit, was die truuk om te verhoed dat hy daardeur bedreig sou voel. Daarom was die strategie om inligting te weerhou wat Trump se sentraliteit tot die ondersoek illustreer, hom te verseker dat hy nie ’n verdagte is nie, en hom sagkens te vermaan oor die noodsaaklikheid om wetstoepassers se onafhanklikheid te respekteer of in gevaar wees dat hy van obstruksie beskuldig kan word)” (ibid; beklemtoning syne).

Comey het aan Mnr. Trump in privaatheid gesê hy word nie ondersoek nie. Mnr. Trump wou hê Comey moes daardie boodskap aan die publiek oordra, maar hy het geweier – want dit was 'n veragtelike leuen! Comey se FBI het eintlik probeer om misdaad te vind om die omverwerping van die inkomende president te regverdig!

Stel jou voor dat hierdie man die verkose president só behandel. En onthou, hy was gestuur deur Barack Obama.

Mnr. Trump het Comey later hiervoor afgedank. Dit is die president se reg om volledige inligting oor alle lopende ondersoeke te ontvang. Maar korrupte agente het noodsaaklike intelligensie van die president weerhou en selfs op hom gespioeneer.

Merriam-Webster Dictionary definieer hoogverraad as "die oortreding te begaan deur met openlike dade, pogings aan te wend om die regering van die staat omver te werp...” “die oortreding van pogings deur openlike dade om die regering van die staat omver te werp ..." Jy hoef nie baie te weet van hoe om te om te weet dat om ‘n poging aan te wend om ’n wetlik verkose president uit die amp te verwyder propaganda te gebruik wat nie geverifieer is nie sodat jy jou radikale politieke agenda kan bevorder, verraad van die hoogste orde is! Korrupte wetstoepassers, gelei deur Barack Obama en met die hulp van Hillary Clinton, het saamgesweer om die regering van die Verenigde State omver te werp! As dit nie verraad is nie, wat is dit dan?

In Amerika se vorige geskiedenis sou mense wat hulle skuldig maak aan sulke misdade tereggestel gewees het!

In verband met hierdie Januarie 2017-gebeure het die joernalis Mollie Hemingway die volgende geskryf: “Nie net is inligting oor Rusland nie volledig met die inkomende Trump-span gedeel nie, soos Obama beslis het, die lekkasies en hinderlae het die oorgang chaoties gemaak, dit het kwaliteit individue bang gemaak om in die administrasie te werk, effektiewe bestuur byna onmoontlik gemaak en nasionale veiligheid wesenlik beskadig” (New York Post, 10 Mei 2020).

Twee weke later, op 20 Januarie 2017, het Rice 'n e-pos aan haarself geskryf wat dokumenteer wat in die vergadering van 5 Januarie gebeur het. Hierdie e-pos was vreemd. Soos McCarthy geskryf het, was dit nie regtig “'n e-pos-aan-self nie. Dit is heel bewustelik 'n e-pos vir die rekord” (op cit; beklemtoning syne). Daarin het Rice geskryf dat alles in die vergadering van 5 Januarie heeltemal probleemvry was. President Obama, het sy geskryf, het alles “volgens die boek” gedoen. Die waarheid is, soos McCarthy geskryf het, Rice se e-pos is “nie geskryf om te onthou wat besluit is nie. Dit is geskryf om die geheue van wat besluit is te hersien, om sodoende dit wat toe gedoen is te rasionaliseer” (beklemtoning syne).

Rice het geweet dat dit wat hulle bespreek het, onwettig was. Sy wou enige ondersoek vooruitloop deur 'n rekord te skep dat alles wat Obama en die ander besluit het, heeltemal wettig was.8

Nie een van hierdie elites het dit gewaag om teen Obama te praat nie. Nie een nie! Hulle was in ’n beswymelde, vreesbevange trans onder Obama se tirannieke leierskap.

Slegs ’n onbeskaamde, wettelose, magtige Barack Obama kon hierdie mees verraderlike daad in die Amerikaanse presidensiële geskiedenis gelei het!

Die Nunes-Memorandum

Op 16 Januarie 2018 het Devin Nunes, voorsitter van die Huis se Intelligensiekomitee, 'n brief geskryf wat bekend staan ​​as die “Nunes-memorandum.” Die radikaal-linkse Demokrate in die Kongres het dit dadelik met ywer aangeval. Huisminderheidsleier, Nancy Pelosi, het dit ’n klug genoem; Chuck Schumer, minderheidsleier van die Senaat, het gesê Nunes was besig om ’n komplot te saai. Hulle het geveg teen die vrystelling van die memorandum en het nooit skuld erken nie. Maar hulle het geweet hulle vertel leuns en dat wat Nunes geskryf het absoluut korrek was.

Op 2 Februarie 2018 het die Huis se Intelligensiekomitee die memorandum aan die publiek vrygestel. Dit het verskriklike korrupsie binne die FBI en die Departement van Justisie ontbloot - en 'n sameswering om Donald Trump te ondermyn. Dit het getoon dat top-FBI- en DOJ-amptenare geweet het dat die Steele-dossier "sensueel en onbevestig" is, soos Comey dit gestel het, maar dit steeds aan die FISA-hof voorgehou het asof dit 'n bewys van 'n wettige buitelandse bedreiging was om sodoende 'n lasbrief te bekom om op Carter Page te spioeneer

'n Yahoo News-artikel van 23 September 2016 oor 'n reis wat Carter Page in Julie 2016 na Moskou onderneem het, het breedvoerig op die Steele-dossier staatgemaak. Die skrywer het inligting direk van Steele ontvang, so die artikel staaf nie die dossier se geloofwaardigheid nie. Tog het die FBI en DOJ hierdie artikel by sy versoek vir die FISA-lasbrief ingesluit.

Dink daaraan: 'n wetstoepassingsbron het inligting aan die media gevoer, toe gebruik die wetstoepassingsagentskappe die media se stories as bewys dat die bron reg was! Die media het stories oor hierdie bewerings geskryf, wat wetstoepassings-agentskappe as nog meer bewys gebruik het om die lasbrief te hernu. Wetstoepassers en die media het ’n eggokamer gevorm.

Hoofstroommediabestuurders was aandadig aan hierdie wettelose komplot. Hulle het voortdurend geloofwaardigheid gegee aan hierdie nonsens.

Wettelose, Grondwet-hatende mense lei nou ons federale wetstoepassings-agentskappe. Hulle tree op asof hulle verhewe bo die Kongres is, maar die Grondwet bepaal dat die Kongres oor hulle moet toesig hou, anders het hulle geen aanspreeklikheid teenoor die Amerikaanse volk nie.

Die New York Times het die vertroulike “Pentagon Papers” onwettig vrygestel in 1971. Maar hierdie koerant en die Washington Post het hard gewerk om invloed te werf vir die die vrystelling van die Nunes-memorandum, wat heeltemal wettig is, te voorkom. Hoekom die dubbele standaard?

Hierdie agentskappe is veronderstel om die wet te handhaaf en toe te pas. Maar hierdie komplot bewys dat hulle bereid is om die wet te vertrap om 'n sekere radikale agenda te bevorder.

As hierdie wetstoepassingsagentskappe onwettig op die president spioeneer, wat kan hulle aan jou doen?

Volgens die Nunes-memorandum het die voormalige FBI-Adjunkdirekteur Andrew McCabe – wat net vier dae voor die memorandum vrygestel is bedank het – erken dat, as nie vir hierdie dossier was nie, daar geen Rusland-ondersoek sou gewees het nie! Steele se dossier het die Departement van Justisie toegelaat om ’n spesiale raad, Robert Mueller en sy span radikale, aan te stel om met die Rusland-ondersoek te begin.

James Clapper het ook later gesê dat hierdie ondersoek nie sou gebeur het nie as dit nie was vir Barack Obama nie. Clapper het gesê die hele Rusland-Trump ondersoek is aan Obama te danke. Duidelik, was mnr. Obama die sterk leier van hierdie rebelle. Om die waarheid te sê, soveel wettelose, verraderlike dade wat sulke verwoesting in ons regering en op ons nasie aangerig het, sou nie plaasgevind het as dit nie vir Obama was nie! Waar kry hy al daardie mag? Dit is iets om oor na te dink.

“Trump About the Steele-dossier?”, deur Andrew McCarthy in National Review, asook “Obama Meeting Could Be Behind Corrupt Michael Flynn Probe,” deur Mollie Hemingway in die New York Post.

Verbete Wetsoortreding

Die Trump-Rusland-ondersoek het twee jaar geduur en $40 miljoen gekos. Die radikale linkse het alles in hul vermoë gedoen om dit te gebruik om die Trump-presidentskap lam te lê. Die hele ondersoek was gebaseer op daardie smerige, waardelose dossier en was dus totaal bedrieglik! Dit was alles om Donald Trump aan te val en, miskien van veel meer belang, om aandag af te lei van hulle eie verraderlike, kriminele aktiwiteite en dit te verdoesel.) Robert Mueller se span het geweet dit was 'n klug selfs voordat hulle die ondersoek begin het!

Hulle het nie net probeer om beheer van Mnr. Trump te weg te neem nie - hulle wou permanent beheer van die regering neem. Selfs vandag werk hulle hard om die laaste oorblywende struikelblokke uit die weg te ruim wat hulle verhoed om soveel mag oor die land op te bou dat niemand iets daaraan kan doen nie.

Merkwaardig genoeg, in daardie hele tyd, het NIE EEN PERSOON van die Obama-administrasie ooit die waarheid oor hierdie oneerlike, verraderlike ondersoek uitgelek nie. Dit bewys ook hoeveel mense Barack Obama vrees. Selfs die Republikeine het daarmee meegegaan. Miskien was baie van hulle self aan korrupsie skuldig. Maar niemand het die moed gehad om op te staan ​​of iets te sê nie. Waar het ons selfs een ernstige fluitjieblaser onder hierdie patetiese elite gesien, of enigiemand anders?

Obama beoefen bomenslike mag

Die Desember 2019-verslag van Horowitz het 17 foute uiteengesit wat Comey se FBI begaan het met die begin van die Trump-Rusland-ondersoek. Hierdie was nie blote foute nie—dit was verraderlike misdade!

Die Amerikaanse volk leer steeds die volle mate waarin Barack Obama persoonlik hierdie verraderlike komplot teen Donald Trump bestuur het. En die enigste rede waarom ons soveel weet soos wat ons weet is omdat Devin Nunes die FBI onder druk geplaas het om die kongreskomitees van 384 bladsye te voorsien, wat die sms-boodskappe bevat tussen die spesiale agent van die FBI, Peter Strzok, wat Crossfire Hurricane gelei het, en die vrou met wie hy owerspel gepleeg het, Lisa Page, wat as advokaat vir McCabe gewerk het. 9

Die teksboodskappe tussen hierdie twee FBI-operateurs het skokkende antipatie vir kandidaat Donald Trump geopenbaar. Strzok het Trump duidelik gehaat. Hy het aan Page 'n nou berugte boodskap gestuur waarin gesê word dat Mnr. Trump nooit president sal word nie, hy skryf: “Nee. Nee hy sal nie. Ons sal dit stop.” 10

Maar van baie meer belang, hierdie tekste toon dat die 17 misdade wat in die Horowitz-verslag uiteengesit word, nie net die gevolg was van een of ander oorywerige FBI-intern nie. Hulle onthul dat die hele Rusland-Trump-ondersoek van hoë vlakke gedryf is.

'Die Withuis Neem die Voortou’

In sy boek Ball of Colllusion skryf Andrew McCarthy dat Strzok en Page "op 5 Augustus 2016 'n gespanne gesprek gehad het oor 'n naderende vergadering waarby 'agentskapmense' betrokke was—blykbaar die cia." By hierdie vergadering het een amptenaar—wie se naam in regeringsmemo’s geredigeer is—aan FBI-amptenare gesê: "DIE WIT HUIS NEEM DIE VOORTOU.” Volgens McCarthy was dié amptenaar Direkteur Brennan. Hy was die tsaar van die president en miskien die magtigste radikaal in die regering ná Obama self.

“Die Withuis neem die voortou.” Brennan het dit duidelik gemaak wie se wil almal veronderstel was om te volg: Barack Obama s'n.

By 'n ander geleentheid het Page gesê sy berei sekere inligting vir Comey voor omdat "potus [President van die Verenigde State, Barack Obama] alles wil weet wat ons doen."

President Obama het gesê hy hou hom uit die ondersoeke van die Departement van Justisie. Hoekom? Omdat betrokkenheid by daardie ondersoeke die deur vir magsmisbruik sou oopmaak, en hy wou nie lyk of hy sy mag misbruik nie. Maar hy was diep betrokke by ondersoeke en het sy mag gruwelik misbruik! Hy het die hele Trump-ondersoek gelei. Hy het Peter Strzok vir daardie pos gekies, 'n man wat dit duidelik gemaak het hoeveel hy Donald Trump haat en vasbeslote was om hom van die presidentskap te weerhou. Die feit dat dít was wie Obama wou hê om toesig te hou oor die ondersoek, wys hoe satanies daardie hele proses was! Obama wou hê dat Trump vernietig moes word. En hy het vir hierdie ondersoekers gesê om alles wat met hierdie saak verband hou, persoonlik na hom toe te bring.

Dit is korrupsie op die diepste vlak—so diep dat die meeste mense dit nie eers sal glo nie!

Voor die 2016-verkiesing het omtrent almal geglo Hillary Clinton sou die volgende president wees. As sy gewen het, sou geen van hierdie korrupsie aan die lig gekom het nie!

Ons moet die geestelike dimensie hier sien. Efésiërs 6:12 sê: “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” Die Bybel is vol sulke skrifture. Sal ons dit glo?

Net soos Satan as ’n “engel van die lig” kom, lyk die mense deur wie hy werk net soos “die dienaars van geregtigheid” (2 Korinthiërs 11:15). Maar hulle werk in duisternis en geheimsinnigheid.

Die radikale linkses is wetteloos! Hulle is satanies siek. Hierdie mense handel nie meer in logika of waarheid nie, want hulle is deur die duiwel oorweldig.

'In kriminele gevaar'

Op grond van die voortgesette ondersoek van spesiale regsverteenwoordiger, John Durham, het 'n groot jurie op 17 September 2021 Michael Sussmann, 'n voormalige Clinton-veldtogprokureur, aangekla omdat hy drie weke voor die 2016-verkiesing vir die FBI gejok het. Sussmann het beweer dat die Trump-organisasie saam met 'n Russiese bank werk met skakels tot die Russiese regering, en hy het gesê dat hy hierdie inligting vrywillig aanbied as 'n goeie burger, nie 'n betaalde politieke agent nie. Maar Sussmann se rekeningrekords toon dat hy vir die Clinton-veldtog gewerk het, 'n tegniese bestuurder en 'n internetmaatskappy - geïdentifiseer as Rodney Joffe en Neustar, 'n groot maatskappy wat internetverkeer bestuur. Aanklaers het as bewys 'n e-pos van Joffe wat sê dat hy voorlopig 'n top kubersekuriteitspos aangebied is "deur die Demokrate toe dit gelyk het of hulle sou wen."

Durham se mosie het gesê dat Joffe 'n poging gelei het om webverkeer te soek wat Donald Trump met Rusland kan verbind. Hy het toe inligting aan Sussmann deurgegee, wat dit aan die FBI gegee het. Volgens die FBI se interne boodskapstelsel het agent Joseph Pientka geskryf: "Mense op die 7de verdieping [FBI-leierskap] om die Direkteur in te sluit, is opgewonde oor hierdie bediener." Die FBI wil hê die publiek moet glo dat dit deur Sussmann se leuen mislei is en nie geweet het dat hy vir die Clinton-veldtog werk nie. Sussmann se bewering—dat Trump-bedieners met Russiese bedieners gekommunikeer het—is maklik deur die FBI-veldkantoor in Chicago weerlê, en die top-FBI-leierskap het waarskynlik reeds geweet dit is vals. Volgens die Washington Times het “Top buro amptenare 'n elektroniese kommunikasie [aan veldagente] gestuur wat die opening van die saak gemerk het en gesê het dat die ondersoek gebaseer is op 'n 'verwysing' van die Departement van Justisie eerder as 'n wenk van Michael Sussmann” (23 Mei, 2022). Waarom sou FBI-leierskap probeer om die werklike bron van die materiaal weg te steek? Waarskynlik omdat almal in die FBI geweet het vir wie Sussmann werk. Nadat hulle die bewerings van Trump-bediener ondersoek het, het die Chicago-veldagente gesê dat dit "nie meriete het nie," "nie 'n analitiese toets deurstaan het nie," en nie 'n "geheime kommunikasiestelsel" toon nie. Nietemin, FBI se hoë offisiere het voortgegaan.

Selfs nadat Trump sy amp beklee het, het Sussmann “’n opgedateerde stel aantygings” aan 'n ander Amerikaanse intelligensie-agentskap, vermoedelik die cia, verskaf. Trouens, Durham se mosie van 15 April 2022 beskryf hoe Sussmann met beide Fusion GPS en die cia saamgewerk het. Die cia het dus geweet dat die aantygings teen Trump deel was van 'n politieke smeerveldtog, maar het steeds die media dit laat gebruik om president Trump tot ’n val te probeer bring.

Op 4 November 2021 het Durham Igor Danchenko, die grootste sub bron vir die Steele-dossier, aangekla. Hierdie veelseggende, hoëprofiel aanklagte het die omvang van Durham se ondersoek voorgestel.

Hierdie regsfirma wat deur Hillary Clinton se veldtog gehuur is, Fusion GPS en die dnk het miljoene dollars bestee aan die Steele-dossier om die grootste bedrog in die Amerikaanse geskiedenis voort te sit! Afgesien van al die ander moeilikheid waarin Clinton behoort te wees, is die besteding van geld wat aan haar veldtog geskenk is sodat sy ‘n misleidende verslag kan finansier waarmee sy haar teenstander kan beswadder, ’n oortreding van die veldtog-finansieringswette. Hulle weet dit, en daarom het hulle soveel brandmure opgestel om hulself te beskerm. Tegnies gesproke het die dnk dit nie gefinansier nie - Sussmann se firma, Perkins Coie, het dit gedoen.

Mnr. Trump het tereg gesê dat Durham se indiening “onbetwisbare bewyse verskaf dat daar op my veldtog en presidentskap gespioeneer is deur agente wat deur die Hillary Clinton-veldtog betaal is in 'n poging om 'n heeltemal gefabriseerde verbinding met Rusland te ontwikkel. Dit is 'n skandaal wat veel groter in omvang is as Watergate, en diegene wat betrokke was by en geweet het van hierdie spioenasie-operasie, moet aan strafregtelike vervolging onderwerp word. In ’n meer standvastige tydperk in ons land sou hierdie misdaad met die dood strafbaar gewees het.” Ek stem heelhartig met hom saam. 

Hierdie plofbare inligting het die verraad wat deur top-Demokrate gepleeg is, verder blootgelê. Tog het die hoofstroompers dit geïgnoreer. Dit is skandelike aandadigheid aan hierdie misdade wat ons grondwetlike republiek vernietig!

Feitlik die enigste mediapersoonlikheid wat bereid was om hierdie storie aan te raak, was Fox News-aanbieder Maria Bartiromo. In November 2021, ná die Danchenko-aanklag, het sy ’n onderhoud met Ratcliffe daaroor gevoer.

In daardie onderhoud het Ratcliffe gesê dat "alles wat met die Steele-dossier verband hou, bekend was as leuens, maar tog was dit die grondigheid verskaf om vorentoe te beweeg met 'n onregverdige, onredelikhe en uiteindelik ... 'n krimineel nalatige ondersoek teen die Trump-veldtog." Hy het gesê die FBI-Direkteur Christopher Wray het onder eed erken dat daar geen rede was vir die FBI om na die FISA-hof te gaan om 'n lasbrief te kry om op die Trump-veldtog te spioeneer nie, tog het die FBI het dit in elk geval gedoen. Hulle het voortgegaan om te spioeneer selfs nadat hy president geword het. En van kardinale belang is dat ons nou weet dat Brennan, Obama en Biden in Augustus 2016, drie maande voor die verkiesing, hieroor ingelig het. Hulle het dus geweet die dossier was vals en dat die hele spioenasieoperasie daarop gegrond was.

Ratcliffe het gesê hy het Rep. Adam Schiff ingelig oor hierdie presiese feite en vir hom gesê die bewyse het tot by Obama gegaan. Schiff, 'n radikale linkse, het dadelik uitgegaan en in die openbaar gesê dat Trump met Rusland saamgespan het en dat hy bewyse daarvan het! Dit is die manier waarop linkses gereeld leuens vertel. Hulle is brutaal soos demone! En feitlik niemand hou hulle aanspreeklik nie. Soos die profeet Jesaja geskryf het, “So word dan die reg teruggedring en die geregtigheid bly staan van ver; want die waarheid struikel op die mark, en wat reg is, kan nie binnekom nie.” (Jesaja 59:14).

Ratcliffe het twee keer gesê dat die dokumente wat hy aan Durham verskaf het, die hoogste regeringsvlakke bereik. Hy het gesê hy weet dat Durham dit ondersoek en dat daardie dokumente "kriminele aktiwiteite openbaar wat die basis vir verdere aanklagte sal wees." Hy het gesê dat 'n groot jurie bevind het dat "wat met die Steele-dossier gebeur het ... krimineel van aard was." Ja, dit was! "Ek dink steeds daar gaan BAIE AANKLAGTES wees gebaseer op die intelligensie wat ek aan John Durham gegee het en van wat ek gesien het," het hy gesê.

Ratcliffe het aan Bartiromo gesê dat "almal wat met die Steele-dossier geassosieer word, met die skepping daarvan, die smous daarvan aan die FBI, en die gebruik daarvan deur wetstoepassingsowerhede teen die Trump-veldtog … is nou in kriminele gevaar."

Daardie onderhoud met Ratcliffe het my verstom. Ek het gedink hierdie wonderlike onthullings sou soos 'n skokgolf deur die nuuswinkels versprei. Hierdie inligting kan nie méér betekenisvol wees nie! Dit gaan oor verraad teen ons land en die letterlike toekoms van vryheid in Amerika. Tog was en is nuusbestuurders en -ankers nie geïnteresseerd nie.

Byna niemand het die moed op te staan teen Barack Obama nie!

In dieselfde onderhoud het Ratcliffe gesê: "Die waarheid sal homself verdedig." Dit is waar, maar ons het reeds gesien en sien dit nogsteeds, dat as niemand die waarheid liefhet en daarvoor veg nie, die waarheid neergewerp en vertrap kan word.

Alle paaie lei tot …

Bartiromo het ook 'n onderhoud gevoer met die voormalige amptenaar van die Departement van Verdediging, Kash Patel. Patel het genoem van Durham se aanklagte van Sussmann en Danchenko, saam met 'n ander in Augustus 2020 wat met die FBI verband hou: prokureur Kevin Clinesmith, wat in Januarie 2021 skuld erken het aan die vervalsing van rekords vir die FISA-hof. Hy het verskeie konneksies uitgewys wat wys hoe diep die Demokratiese Party se betrokkenheid by hierdie misdade was.

Tog het selfs die onderhoud met Patel sommige van die vooroordeel en vrees verraai om Obama te noem. Patel het gesê: "Alle paaie lei na Andy McCabe." Ja, McCabe was deel van die verraderlike leuens, selfs teenoor inspekteur-generaal Horowitz. En soos Patel gesê het, Clinesmith, die middelvlak FBI-prokureur wat waarlik aangekla is, kon nie "alleen die grootste politieke skandaal in die geskiedenis regkry nie " –hy het hulp van sy toesighouers gehad. Maar dink jy alle paaie lei na Andy McCabe toe?

Nee, hulle lei na iemand veel hoër. Om die waarheid te sê, die Horowitz-verslag onthul dat McCabe aan die inspekteur-generaal gesê het dat die FBI die Steele-verslag aan president Obama gestuur het omdat Obama gevra het vir “alles wat jy het wat van toepassing is op hierdie onderwerp van Russiese invloed.” Natuurlik was daar geen Russiese invloed nie, en McCabe het dit geweet—maar hy het gewilliglik hiermee saamgegaan en gehoor gegee aan die wil van Barack Obama.

Waarheen lei alle paaie? Slegs een persoon het die verterende motief en kwaadwilligheid gehad. Slegs een persoon het die geweldige, oorheersende wil gehad. Slegs een persoon was omring met magtige medepligtiges in die regering en in die media. Slegs een persoon het die onaantasbare trots en krag gehad om hierdie voortdurende verraad teen die Verenigde State van Amerika te bewerkstellig. HY MOET GENOEM WORD! DAARDIE MAN IS BARACK OBAMA.

Selfs Fox News vermy hierdie onderwerp meestal en sê vae dinge soos, hierdie aanklagte kan "slegte nuus vir die Clintons" wees. Dit spreek nouliks uit teen hierdie verskriklike euwel. Konserwatiewes is te swak! Hulle sê hulle het die moed om die waarheid te vertel, maar iets weerhou hulle daarvan om die volle waarheid te vertel. Hulle will nooit die hoogs geleë een agterna sit nie, al is die toekoms van ons land op die spel!

Ongelukking word daar selfs in die Horowitz verslag baie min oor Obama gepraat en betrek dit hom by niks! Dit ten spyte van al die duidelike bewyse van daardie twee vergaderings—van 5 en 6 Januarie—wat bewys het dat Obama in beheer was en 'n plan geïmplementeer het om met die ondersoek aan te hou selfs nadat Trump president geword het. Natuurlik het Obama Horowitz in sy amp geplaas. Op die ou einde het Horowitz gesê: "Ons het nie dokumentêre of getuigskrifte gevind dat politieke vooroordeel of onbehoorlike motivering die FBI se besluit beïnvloed het om [FISA- magtiging vir Carter Page te soek] nie." Met ander woorde, hulle het nie bely dat hulle bevooroordeeld was nie. Hierdie taal is gekies om te mislei. En natuurlik het die media berig dat Horowitz geen vooroordeel gevind het nie, en die meeste mense het dit net geglo. Horowitz het erken dat die FBI 17 foute begaan het (wat eintlik 17 aksies van verraad was), maar het in werklikheid gesê dat hulle motiewe vir hierdie verraad onbevooroordeeld kon gewees het. Watter dwaasheid!

Nasionale Oorlewing op die Spel

Ons is in ‘n tyd van bittere swakheid in Amerika. Wetgewers, regters, burokrate en ander wat mag uitoefen, is verskriklik korrup. Ons instellings verkrummel. Ons grondwetlike regeringsvorm is byna heeltemal vernietig.

Die getuienis toon 'n geweldige hoeveelheid wetsoortredings deur burokrate in intelligensie en wetstoepassing. Dit wys dat PRESIDENT OBAMA AMERIKA SE WETSTOEPASSINGSAGENTSKAPPE MET VERRADERLIKE AGENTE GEVUL HET. Dit wys dat Obama sy laaste dae in die amp deurgebring het saam met "diepstaat"-operateurs om uit te vind hoe hy kan voortgaan om die inkomende president te ondermyn en selfs op hom te spioeneer. Iets diabolies was aan die gang totdat Mnr. Trump verkies is—en dit het agter die skerms voortgeduur tydens sy presidentskap.

Dit is skandalig om te sien hoe amper heeltemal stil die media oor hierdie storie is. Hoekom stel hulle nie belang nie? Kan enigiets belangriker wees? Dit gaan oor die verlies van ons land! Dit gaan daaroor om van groot vryheid na die ergste soort tirannie oor te gaan. Maar in veels te veel gevalle is hierdie nuusmakers aandadig.

Hierdie gebeure het ons 'n harde kykie gegee na wat radikale linkses bereid is om te doen om die mag te gryp en aan bewind te bly. Hulle het geen respek vir die oppergesag van die reg nie. Hulle glo hulle is verhewe bo die wet. Sulke minagting vir die nasie se grondbeginsels is 'n ernstige bedreiging vir die republiek! Geen volk kan sulke wetteloosheid oorleef nie.

Word vervolg ...